STILBAAI NUUS - Al die gr. R- tot gr. 3- leerders van Melkhoutfontein Primêr is Vrydagoggend 5 Junie bederf met heerlike vetkoeke gevul met kerriemaalvleis en ander smaaklike vulsels.
Lede van die Soetfontein Senior Burgerklub, onder leiding van Albert Cloete, het die leerders in die Ruby Flores-skoolsaal toegespreek oor die belangrikheid van respek teenoor senior burgers en volwassenes. Ná die praatjie is elke leerder met 'n varsgebakte vetkoek bederf.
Chrysel Conradie van die klub het die kinders aangemoedig om altyd respekvol teenoor volwassenes op te tree, insluitend hul ouers, grootouers, ander familielede en selfs vreemdelinge.
Sy het beklemtoon dat hoflikheid en vriendelikheid belangrike waardes is en dat jongmense altyd bereid moet wees om ouer mense met take te help wat vir hulle moeilik of te swaar geword het.
Albert Cloete, voorsitter van die Soetfontein Senior Burgerklub, het bygevoeg dat respek vir onderwysers net so belangrik is. Volgens hom speel onderwysers 'n onmisbare rol in kinders se ontwikkeling en vorming gedurende hul skooljare.
Die besoek het nie net waardevolle lewenslesse aan die jong leerders gebied nie, maar ook 'n smaaklike verrassing. Die vroue van die klub het hard gewerk met die voorbereiding van die vetkoeke en kon uiteindelik selfs leerders uit ander klasse in die skool met die lekkerny bederf.
Die inisiatief het groot opgewondenheid onder die kinders veroorsaak en terselfdertyd die belangrikheid van wedersydse respek tussen jong en oud beklemtoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’