STILBAAI NUUS - Clifton Donald en 'n groepie vrywilligers het Donderdagoggend, 30 April, by Die Brugmark bymekaargekom om rommel langs die Goukourivier in Stilbaai op te tel.
Gewapen met die kenmerkende geel plastieksakke, lang knyptange en handskoene het hulle die oewer van die Goukou aan die Oostekant, rondom die brug, getakel.
Ry met jou motor daar verby en die rivier lyk pragtig en mooi, maar by nadere ondersoek sal jy die hope rommel, wat daar gestrooi word, opmerk.
Drankbottels, houers van wegneem etes en selfs kledingstukke is aan die orde van die dag.
Die parkeerplek oorkant die skietbaan is blykbaar 'n gewilde kuierplek, want daar word lekker gemors met drankbottels en houers van wegneem etes wat duidelik sommer deur die motorvenster gegooi word.
Al hierdie gemors beland uiteindelik in die rivier en dan spoel dit tot in die see.
Gaan meer vullisdromme help? Is daar opvoeding ter sprake, of moet kameras ingespan word om die belhamels vas te trek?
Intussen is die gemeenskap baie dankbaar vir hierdie groepie vrywilligers wat binne 'n uur 'n hoop rommel bymekaar gemaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’