STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Burger-klub het Vrydag 17 Julie Mandeladag op betekenisvolle wyse gevier deur uit te reik na bejaarde en weerlose inwoners van Melkhoutfontein.
Die klub het sy lede, asook ander inwoners, by Ouma Lena se Huis met heerlike warm sop en vetkoeke onthaal. Die geur van smaaklike boontjie- en hoendersop het in die lug gehang en 'n gesellige atmosfeer geskep.
Elke gas het ook 'n geskenkpakkie ontvang wat 'n warm kombers, gebreide sokkies, 'n bottel gevul met koekies en lekkers, asook 'n vrug ingesluit het.
Bestuurslede het ook inwoners wat weens mediese redes nie die geleentheid kon bywoon nie, by hul wonings besoek om hul geskenke en eetgoed persoonlik te oorhandig.
Die dag se omgee het verder as die bejaardes gestrek, met genoeg warm sop wat uitgedeel is om sowat 30 kinders in die buurt ook te bederf.
Elvezo Josephs, bestuurder van Usave in Melkhoutfontein, het as gasspreker opgetree. In sy inspirerende boodskap het hy mense aangemoedig om Nelson Mandela se nalatenskap te eer deur vriendelikheid, wedersydse respek en klein dade van goedheid deel van hul daaglikse lewe te maak.
"Tannies en ooms, julle hoef nie ver te gaan nie. Julle diens begin reg rondom julle," het Josephs gesê.
Hy het inwoners aangemoedig om met eenvoudige dade 'n verskil te maak - soos om iemand met 'n glimlag te groet, vir familie en die gemeenskap te bid, wysheid met jonger mense te deel en tyd te maak om na iemand wat eensaam voel, te luister.
Die voorsitter van die Soetfontein Senior Burger-klub, Albert Cloete, het die dag se boodskap opgesom met die woorde: "Vergeet om te onthou as jy gee, maar onthou om te onthou as jy ontvang."
Volgens die klub het die glimlagte en trane van dankbaarheid op die gesigte van die byna 60 mense wat bereik is, bewys dat hul 67 minute vir Mandela 'n blywende verskil gemaak het.
Die klub het sy opregte dank uitgespreek teenoor die talle borge, donateurs en vrywilligers wat die uitreik moontlik gemaak het. Suzelle Mouchtouris het Ouma Lena se Huis beskibaar gestel, terwyl OK Foods, Pep Stores, Pep Home, Usave en Linnekas ook ruim bygedra het om van die dag 'n besondere geleentheid te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’