RIVERSDAL NUUS - Op 78-jarige ouderdom bly Heilie M Templer van Riversdal in die Wes-Kaap 'n toonbeeld van toewyding en diensbaarheid. Sy gebruik steeds haar tyd en energie om ander te help deur haar betrokkenheid by Solidariteit Helpende Hand.
Templer is sedert 2019 aktief by haar plaaslike Helpende Hand-tak en beskryf haar rol eenvoudig: om te help waar nodig. Of dit nou by die dorp se Ons Winkel is of by verskeie gemeenskapsprojekte, haar ingesteldheid bly onveranderd - diens aan ander.
Vir haar lê die ware waarde van vrywilligerswerk in die klein, persoonlike oomblikke waar sy 'n verskil in iemand se lewe kan maak.
Volgens Marlise Labuschagne, assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Suid-Kaap, speel vrywilligers soos Heilie 'n onmisbare rol in hul gemeenskappe.
Templer sê: "Ek weet my tyd raak nou min by Helpende Hand, maar ek vrees die dag as ek nie meer betrokke kan wees nie. Ek sal steeds daar wees om by te staan waar ek kan, want 'n mens hou nie op om te gee nie."
Belangstellendes wat ook 'n verskil wil maak, kan www.weskaaphand.co.za besoek om as vrywilliger in die omgewing aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’