STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-gholfklub se dak het Donderdagaand 18 Junie behoorlik gelig toe die Vriende en Familie-komitee van Huis Stilbaai hul gewilde jaarlikse Bangers en Mash-aand aangebied het.
Onder leiding van die nimlike Hennie Slabbert het die aand weer bewys waarom dit een van die hoogtepunte op die fondsinsamelingskalender is. Slabbert, wat 'n besonderse passie vir Huis Stilbaai het, werk deur die jaar onverpoos om die finansiële las op die tehuis te help verlig.
Die vermaak is verskaf deur RD van Huyssteen en sy orkes, wat die een treffer na die ander gelewer het. Met 'n keur van bekende Engelse en Afrikaanse saam-singliedjies, het die gaste die hele aand uit volle bors saamgesing.
Die musiek het vir 'n rukkie plek gemaak vir aandete toe die uitnodigende geure uit die kombuis gaste nader gelok het. Op die spyskaart was smaaklike varkworsies met ertjies en romerige kapokaartappels, afgerond met 'n vetkoekie en konfyt.
Soos elke jaar word al die wins van die aand aan Huis Stilbaai geskenk om die tehuis se werk te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’