STILBAAI NUUS - Badisa Stilbaai het Woensdag 5 Augustus tydens sy algemene jaarvergadering by Huis Stilbaai teruggekyk op 'n jaar van diens, omgee en gemeenskapsontwikkeling.
Die ontspanningsaal was gevul met entoesiastiese vrywilligers, personeel en ondersteuners van Badisa se verskeie inisiatiewe in die Stilbaai-omgewing.
Dr. Marietjie Strydom, voorsitter van Badisa Stilbaai se beheerraad, het in haar openingsrede beklemtoon dat barmhartigheid begin wanneer mense mekaar met deernis en liefde behandel.
"Badisa Stilbaai is geseënd om in 'n gemeenskap te werk waar kerkgenootskappe, besighede, vrywilligers, donateurs, staatsinstellings, gemeenskapsorganisasies en ons personeelkorps saamwerk om hul roeping van naasteliefde en sorg uit te leef," het sy gesê.
Volgens Strydom is die algemene jaarvergadering nie bloot 'n geleentheid om verslag te doen nie, maar ook om almal te inspireer om steeds saam met Badisa die pad vorentoe te stap.
'n Besonderse hoogtepunt van die verrigtinge was die getuienis van die Rischmuller-gesin van Stilbaai, wat hul vervullende ervaring as pleegouers met die gehoor gedeel het.
Badisa Stilbaai se werk strek veel verder as tradisionele maatskaplike dienste en sluit verskeie gemeenskapsprojekte in.
Een van die organisasie se belangrikste inisiatiewe is die Baaija vir Biekie-winkel in Stilbaai. Die winkel is afhanklik van skenkings uit die publiek en inkomste wat gegenereer word, help om 'n beduidende deel van Badisa se begroting aan te vul.
Die Sakkie vir 'n Pakkie-projek bied noodvoedselhulp aan kwesbare gesinne en speel 'n belangrike rol om huishoudings in moeilike omstandighede te ondersteun.
By die Seesterretjies-kleuterskool in Melkhoutfontein word 43 kleuters en peuters daagliks versorg. Met die ondersteuning van twee toegewyde vroeë kinderontwikkelingsonderwyseresse word 'n veilige, liefdevolle en stimulerende leeromgewing geskep waar kinders optimaal kan ontwikkel.
Hulle bied ook 'n nasorgfasiliteit vir 77 kinders, waar akademiese ondersteuning gebied word en daar doelgerig gefokus word op hul sosiale, emosionele, fisiese, geestelike en kreatiewe ontwikkeling.
Hierdie projekte vorm slegs 'n deel van die uitgebreide maatskaplike dienste wat Badisa in die Stilbaai-omgewing lewer en weerspieël die organisasie se verbintenis om hoop en ondersteuning aan mense in nood te bring.
Die jaarvergadering is afgesluit met verversings en gesellige samesyn, terwyl deelnemers met hernude inspirasie en waardering vir Badisa se werk huiswaarts gekeer het.