STILBAAI NUUS - Die Baaija vir Biekie-winkel van Badisa in Stilbaai verkoop 'n verskeidenheid produkte, onder andere klere, huisware en linne teen baie bekostigbare pryse.
Dit word enersyds bedryf om inwoners te ondersteun om bekostigbare produkte te bekom, maar ook om broodnodige fondse vir die organisasie in te samel. Die produkte wat aangebied word, word gratis deur die publiek voorsien.
Alhoewel enkele dames teen 'n nominale betaling in diens is, lewer vrywilligers betekenisvolle bydraes deur take soos sortering, prysbepaling en klantediens te hanteer.
Nadat basiese bedryfskoste soos huur en nutsdienste gedek is, gaan die oorblywende inkomste na Badisa Stilbaai en dit maak soveel as 25% van Badisa Stilbaai se jaarlikse begroting uit. Alle fondse word binne die groter Stilbaai-gemeenskap aangewend.
In Stilbaai is Badisa die enigste organisasie wat 'n professionele kinder- en gesinsorgdiens in die omgewing bied. Die organisasie is daartoe verbind om inklusiewe dienste aan alle inwoners in nood te bied.
Baaija vir Biekie is langs die Stilbaai-kliniek en winkelure is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00, Saterdae en openbare vakansiedae van 09:00 tot 12:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’