STILBAAI NUUS - Die Stilbaai U3A-voëlgroep se maandvergadering op Dinsdagaand, 23 Junie, het alle verwagtinge oortref toe 'n groot skare natuurentoesiaste Die Waenhuis by Jagersbosch gevul het om na dr. Wilhelm de Beer van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat se praatjie oor fynbosvlinders en die fynbos se ingewikkelde eko-web te luister.
Die belangstelling was só groot dat die organiseerders inderhaas nog stoele moes uitpak om almal te akkommodeer.
De Beer, wat passievol is oor die bewaring van die fynbos en sy unieke biodiversiteit, werk nou saam met grondeienaars in die Hessequa-streek om hierdie kosbare natuurlike erfenis te beskerm.
Sy aanbieding het die gehoor 'n breër perspektief gegee op die wêreld waarin voëls leef en gewys hoe uiteenlopende organismes - van skoenlappers en miere tot myte, swamme en selfs veldbrande - 'n onmisbare rol speel in die gesondheid en voortbestaan van die fynbos-ekostelsel.
Een van die interessante feite wat gedeel is, is dat daar sowat 350 skoenlapperspesies in die fynbosbioom voorkom, waarvan 35 spesies reeds in die Pauline Bohnen-natuurreservaat by Stilbaai aangeteken is.
De Beer het ook daarop gewys dat daar ongeveer 170 000 swamspesies in die fynbosbioom gedokumenteer is en dat die fynbosbioom na raming 350 verskillende dekrietspesies huisves - 'n aanduiding van die uitsonderlike biodiversiteit van die streek.
Die bedreiging wat indringerplante, soos rooikrans (Acacia cyclops), vir die fynbos en die dierelewe daarin inhou, het ook sterk na vore gekom. Hy het beklemtoon dat die beheer van indringerplante noodsaaklik is om die unieke ekologiese balans van die fynbos te beskerm.
Die insiggewende aanbieding het die gehoor met 'n nuwe waardering gelaat vir die komplekse wisselwerking tussen al die lewensvorme wat saam die wêreldbekende fynbos-ekostelsel vorm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’