Video
WITSAND NUUS EN VIDEO - Hoe rowwer die rivier, hoe lekkerder.
So sê Dylan Frick wat Saterdag 21 September PiliPili-restaurant se sewende Whale of a Race standup paddling-kompetisie in die kusdorpie gewen het.
Hy het die eerste keer in 2013 deelgeneem en gou opgang gemaak. Hy het uit die staanspoor gewen en is op vroeë ouderdom in die Springbokspan ingesluit. Dit het hom die geleentheid gebied om teen die beste internasionale deelnemers in die wêreld deel te neem en wyd te reis.
"Die enigste keer wat hy nie gewen het nie, was verlede jaar toe hy nie deelgeneem het nie," sê Neels Swanepoel, mede-eienaar van PiliPili hier en in Sedgefield.
"Ek het verlede jaar nie deelgeneem nie, want ek wou dink oor wat ek met my lewe wil doen. Ek neem vanjaar vir die laaste keer deel - ek is moeg vir racing."
Vanjaar het hy met 'n spesifieke doel deelgeneem. "Ek het my oupa en my ouma vanjaar verloor. Hulle was altyd hier om my te ondersteun en ek dra vanjaar se kompetisie aan hulle op."
Hy wil voortaan op branderplankry en vlieërseil fokus.
Kyk 'n video hieronder
Veertien mans en net soveel vroue het vanjaar deelgeneem. Volgens Swanepoel is dit minder as gewoonlik - daar was al tot 40 deelnemers. "Gure weer is voorspel en ek dink dit het baie voornemende deelnemers afgeskrik."
Die kompetisie het by die hawehoof voor die restaurant begin en geëindig. Die deelnemers het 09:00 die roete van 10 km aangepak en al die rivier se grille ervaar. Buiten die wind wat vroeg al opgesteek en toenemend sterker geword het, was daar sleurstrome en maalkolke om mee rekening te hou. Met die terugkeer moes hulle die uitgaande gety trotseer.
Frick van die Strand het binne 1:01:46 klaargemaak. Hy is gevolg deur Kimon dos Santos (1:02:55) van Bloubergstrand in die tweede plek en Tom King (1:03:43) van Kaapstad in die derde plek.
King se vrou Tarryn (1:12:21) was die eerste vrou wat klaargemaak het, gevolg deur Khara Doyle (1:18:44) ook van Kaapstad in die tweede plek en Jess Rankin (1:22:16) van Kwazulu-Natal in die derde plek. Die twee wenners het elk met R10 000 weggestap.
Volgens Swanepoel, wat die kompetisie in samewerking met restaurantbestuurder Lyzette Feldtmann reël, is hierdie die enigste groot kompetisie wat hulle aanbied. "Ons is passievol oor watersport en het die plek hier oopgemaak om die dorp te bemark. Die kompetisie is 'n lekker manier om mense te wys wat die dorp bied."
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'