Update
RIVERSDAL NUUS - Riversdal-tennisklub se vrouespan het 'n verdienstelike tweede plek in die Eden-distrik se vroue-tweedeligakompetisie losgespeel.
Die span het eerste in hul groep geëindig nadat hulle met Beaufort-Wes (4 - 0), Wesbank (3 - 1) en George B (4 - 0) afgereken het.
Riversdal moes George A, wenner in hul afdeling, in die eindstryd pak, maar moes toe die knie teen hul sterker teenstanders buig.
Riversdal is 'n klub met 'n struktuur wat goed funksioneer. Die drie spanne ding jaarliks in afsonderlike ligas in Eden mee. Die manspan neem deel in die eerste liga waar hulle verlede jaar tweede geëindig het.
Die vroue het die afgelope drie jaar elke keer tweede geëindig in die tweede liga terwyl die gemengde span in die eerste kwartaal van elke jaar in die tweede gemengde liga meeding.
Belangstellendes wat graag by die klub wil aansluit, is welkom. Elke Dinsdag- en Donderdagmiddag is daar van 16:00 af sosiale tennis vir alle lede.
Vir enige navrae bel Marna de Villiers by Riversdal Grassnyers (028 713 1581) of Woutrien Eloff by Nieuscript (028 713 2058).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'