RIVERSDAL SPORT NUUS - Rugby is 'n goeie manier om jongmense van misdaad en dwelms weg te hou.
Dis die mening van Jackson Davids, afrigter van die Crusaders-span van Kwanokuthula.
Die rugbyklub het Saterdag 12 Oktober Beverley Hills se Dream Team op die Riversdal-rugbyklub se sportterrein met 43-21 gewen.
Dream Team het halftyd met 14-7 voorgeloop. Vir Kwana, soos die span bekendstaan, het Renier Goliath (kaptein), Zankile Johannes, Wayne Stoffels, Christopher Kiewiets, Jandré Elbrink, Bernie Esau en André Nel drieë gedruk, waarvan Goliath vier verdoel het.
"Die hele Kwana-span het uitgeblink," sê Davids. "Ek doen 'n beroep op alle klubs wat voorheen aan die landelike ontwikkelingsrugbyliga deelgeneem het om weer klubs op die been te bring sodat ons ons jongmanne in die nuwe jaar kan besig hou.
"So kan ons saamstaan om ons jongmense van misdaad en dwelmmisbruik weg te hou. Dit was voorheen 'n sukses en ons kan dit weer laat werk."
Kontak hom vir meer inligting by 064 840 9006.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'