RIVERSDAL NUUS - 'n Groot terugvegpoging en 'n skepskop in die doodsnikke van die SWD-rugbyunie se Superliga Top-8-rugbywedstryd het Seagulls van Melkhoutfontein verlede Saterdagmiddag in staat gestel om Riversdal Blues op hul tuisveld met 19 - 17 uit te knikker.
Curnall Sollmans, puik losskakel van Seagulls, het 'n skepskop in die 84ste minuut deur die pale gejaag om 'n oorwinning aan die besoekers te besorg.
En Blues-ondersteuners se harte gebreek nadat die tuisspan vir die grootste gedeelte van die wedstryd voorgeloop het - in een stadium met 17 - 6 - en 'n oorwinning onafwendbaar gelyk het.
Dit het herinner aan 'n soortgelyke drama in Durban waar die Iere se Ciaran Frawley die Springbokke verlede Saterdag in Durban met 'n skepskop in die doodsnikke van dié toets gekelder het om met 25 - 24 te wen.
'n Groot hartseer vir duisende Bok-ondersteuners.
'n Rooikaart vroeg in die eerste helfte en swak dissipline het die Blues se kanse lelik beduiwel.
Maar alle krediet aan Seagulls wat in die tweede helfte sterk teruggeveg het om 'n agterstand van 6 - 17 in 'n oorwinning te omskep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’