RIVERSDAL NUUS - Veertien rugbyspanne gaan Saterdag by die Steg opdaag met één doel voor oë: om jag te maak op die prysgeld van R10 000 wat op die spel is in die Matlann-Jo Fielies-sewestoernooi.
Met spanname soos Hessequa Young Justice, Hessequa Underdogs, George Roosters, Rosemoor Warriors en Swellendam Bom Squad klink dit nie of die spelers hier vir 'n Sondagmiddaguitstappie gaan opdaag nie.
Trouens, dit klink meer of daar 'n oorlog in die kleine op pad is en dat weerwraak die strydkreet gaan wees.
Hou dus vas aan julle stoele, want meer as net hare gaan waai.
Marvin Kortje, een van die hooforganiseerders, het aan Suid-Kaap Forum gesê van die beste klubspelers in Hessequa, die Tuinroete en ook Boland gaan in aksie wees. Marvelous & Kie reël weer vanjaar die sewestoernooi.
Die eerste afskop is om 07:00 en spanne speel sewe minute aan 'n kant met 'n minuut rustyd tussenin. Die uitspeelrondes sal waarskyunlik hier rondom 18:00 aanbreek.
Vir toeskouers is daar 'n groot verskeidenheid musiekvermaak gereël en daar is ook heelwat te koop en te drink.
Toegang vir volwassenenes en hoërskoolleerders is R20 en dit kos R10 om jou voertuig in te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’