MELKHOUTFONTEIN RUGBY NUUS - Seagulls-rugbyklub van Melkhoutfontein het Saterdag, 26 Maart in hul tweede SWD superliga B-ligawedstryd van die nuwe seisoen op hul tuisveld oor Mosselbaai met 88-6 gestoomroller.
Hulle was rustyd met 47-0 voor.
Die tuisspan het wel die wedstryd weer soos in hul eerste wedstryd teen Silver Stars goed begin, maar na 20 minute fokus verloor en nie by die wedstrydplan gehou nie. Volgens hul afrigter, Duane Duitsjan is daar na die wedstryd nabetragting gehou en aan die spelers uitgewys waar hulle sal moet verbeter.
"Hoewel ons ver gewen het, is daar nog baie plek vir verbetering. Ons sal nie teen die sterk klubs so fokus kan verloor nie," het Duitsjan gesê.
Seagulls het 13 drieë aangeteken, waarvan die senter, Jerome Esau met sy driekuns en die slot, Howard Michaels met twee drieë uitgestaan het.
Die ander driedrukkers was Wilhelm Sollmans (heelagter), Nathan Buis (senter), Wilhelm Adams (losskakel), Willem Hendricks (skrumskakel), John Busch (agsteman), Gershom van Rooyen (plaasvervanger-regtervleuel), Hyron October (plaasvervanger slot) en Richie Baker (plaasvervanger voorry), elk met een drie.
Sollmans het sewe doelskoppe en een strafskop bygevoeg. Delano Jacobs, wat vir Sollmans op heelagter vervang het, het met drie doelskoppe geslaag.
Die name van Mosselbaai se puntemakers was nie beskikbaar nie.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span ook gemaklik met 39-7 gewen nadat hulle rustyd met 10-7 gedraai het.
Sedwin Pieterse het drie drieë gedruk. Die ander driedrukkers was Teswill Rhoda, Jacobus Scholtz, Jonathan Lombaard en Tobias Swart elk met een drie.
Joswin Pieterse het met twee doelskoppe geslaag.
Seagulls speel Saterdag, 2 April weg teen Thistles van George.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'