MELKHOUTFONTEIN RUGBY NUUS - Seagulls, wat met talle nuwe spelers spog, is hard besig om vir die 2020-rugbyseisoen voor te berei.
Die nuwe spelers sluit onder andere Jerome King Esau en Abi Riddles, wat verlede jaar vir Rangers gespeel het, in. Lotter Pretorius, wat drie jaar lank vir Saracens in Roemenië en junior-rugby vir die Sharks gespeel het, is ook nou by hulle.
Dié skrumskakel wat ook op vleuel kan diens doen, se ervaring is van onskatbare waarde vir die span. Verskeie spelers van Riversdal het ook nadergestaan.
Reagon Riddles, die sterk senter wat verlede jaar met beserings gesukkel het, is weer gereed om te speel.
Lihan Kiewiet, 'n ervare SWD Premier-speler wat by Barbarians en Progress diens gedoen het, maak ook saam met hulle litte los. "Ek weet nog nie waarheen die wind my gaan waai nie," het hy gesê.
Grant Riddles, voorsitter van die klub, is vol lof vir diegene wat die leisels by die vorige afrigter oorgeneem het.
Die afrigters en die bestuur is ook besig met die beplanning vir die jaar.
Lotter Pretorius (voor) en Reagon Riddles oefen saam.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'