STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 14 Oktober verseker dat hulle 'n tuishalfeindstryd kry deur die derby teen Albertinia Rangers met 22 - 19 te wen.
Maklik was dit gewis nie en die halftydtelling was 10 - 7 in die guns van Seagulls te danke aan 'n strafskop deur Curnall Sollmans en 'n drie deur Ruben Daries. Sollmans was ook suksesvol met die doelskop.
In die tweede helfte was daar 'n drie deur Gershom Trompie van Rooyen en met net nege minute speeltyd oor het Rangers nog voorgeloop met 19 - 15.
Met vyf minute oor het Hackuum Jansen gaan druk en Sollmans het seker gemaak van sy doelskop om die eindtelling 22 - 19 te maak.
Volgens Marlin Jansen, sekretaris van Seagulls, was die wedstryd van die begin tot einde in die weegskaal, soos mens kan verwag van derbywedstryde. Hy sê die toeskouers het beslis waarde vir hul geld gekry.
Hy sê hulle is trots soos 'n rots en sien uit na die halfeindstryd op 28 Oktober teen All Blacks van Oudtshoorn in Melkhoutfontein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’