Update
HEIDELBERG NUUS - Seagulls-rugbyklub van Melkhoutfontein was Saterdag, 23 April vir die tweede keer die seisoen lelik skrik op die lyf gejaag toe hulle net-net in hul wegwedstryd teen Collegians van Oudtshoorn met 27-24 deurgeskuur het.
Hulle het rustyd met 10-7 in hul vyfde ronde SWD Superliga B-ligawedstryd voorgeloop.
Albei spanne het nie gehuiwer om die bal lug te gee nie en in totaal is agt drieë aangeteken. Seagulls het daarin geslaag om vyf drieë te druk om sodoende 'n bonuspunt te verseker.
Goeie verdediging aan hul kant het bygedra dat die tuisspan net een bonuspunt kon verdien.
Dit is duidelik dat indien Seagulls die seisoen veel meer sukses wil behaal, hulle meer doelgerig sal moet wees, veral met hul volgende wedstryd Saterdag tuis teen hul buurdorp, Riversdal Blues.
Vir Seagulls het Delano Jacobs (heelagter), Jerome Esau (senter), John Busch (agsteman), Hyron October (flank) en Jason Jacobs (haker) elkeen 'n drie gedruk. Reagan Riddles (plaasvervanger-senter) het met een doelskop geslaag.
Vir Collegians het Marlin Jaars (linkervleuel) twee drieë gedruk, terwyl Renaldo Botha (skrumskakel) een keer gaan druk het. Prinshane Carolus (losskakel) het twee van die drieë verdoel en met een strafskop geslaag.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span ook naelskraap met 6-5 gewen nadat Collegians rustyd met 5-3 voorgeloop het.
Vir Seagulls het Joshwin Pieterse (senter) met twee strafskoppe geslaag, terwyl Christopher Barends (skrumskakel) vir Collegians gaan druk het.
Vorige artikel: Seagulls maak dit net-net
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'