MELKHOUTFONTEIN RUGBYNUUS - Seagulls-rugbyklub het Saterdag 9 Julie in hul wegwedstryd op die Jan van Riebeeck-stadion letterlik oor hul teenstanders, Mosselbaai, gestoomroller en 'n wegholoorwinning van 59 - 10 behaal.
Seagulls het met rustyd reeds met 40 - 0 in hul SWD Superliga B-ligawedstryde voorgeloop.
Die besoekers het vanaf die afskop die krane oopgedraai en dit duidelik gemaak dat hulle baie ernstig is om hul plek onder die vier topspanne in die liga te verseker om sodoende moontlik volgende seisoen na die A-liga op te skuif.
Seagulls het nege drieë, ses daarvan in die eerste helfte, teenoor die tuisspan se twee drieë ingeryg. In die tweede helfte het Seagulls die voet effe van die pedaal gehaal en nog drie keer gaan druk.
Die tuisspan kon as gevolg van hul besoekers se verlies aan konsentrasie twee drieë gaan druk.
Vir Seagulls het Gershom van Rooyen (heelagter) en Jerome Esau (senter) elk twee keer gaan druk, terwyl Gurtvon Kleinhans (regtervleuel), Nathan Buis (senter), Reagan Riddles (losskakel), Willem Hendricks (skrumskakel) en John Busch (agsteman) elkeen 'n drie gaan druk het. Riddles het ook sewe van die nege drieë verdoel.
Seagulls se B-span het hul eweknieë van Mosselbaai met 52 - 5 gewen nadat hulle rustyd met 31 - 0 voorgeloop het. Hulle het ook agt drieë ingeryg.
Die puntemakers vir Seagulls was Delano Jacobs (skrumskakel) en Waden Lakay (plaasvervanger-agtsteman), elkeen met twee drieë, terwyl Wilhelm Sollmans (heelagter), Teswill Rhoda (regtervleuel), PJ Petersen (senter) en Denzille Oosthuizen (flank) elk een drie gedruk het. Jacobs het ook vier doelskoppe oorgeklits, terwyl Sollmans en Wilhelm Adams (losskakel) elk met een doelskop geslaag het.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'