MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub het Saterdag met 'n spoggerige vertoning op hul tuisveld gesorg dat hulle Silver Stars van George met 48 - 17 in hul SWD Superliga B-ligawedstryd geklop het.
Seagulls het rustyd met 24 - 8 voorgeloop. Die wenspan het ses drieë ingeryg. Was dit nie dat Seagulls hier aan die einde die voet van die pedaal afgehaal het nie sou die telling veel anders daar uitgesien het.
Dit was van die afskop af duidelik dat Seagulls meer doelgerig en gefokus was. As hulle hul volgende wedstryd Saterdag weg teen die geharde All Blacks van Oudtshoorn met dieselfde dissipline en passie aanpak, gaan hulle bitter moeilik geklop word.
Vir Seagulls het Henrico Riddles (slot) twee keer gaan druk, terwyl Gershom van Rooyen (regtervleuel), Nathan Buis (senter), Hyron October (flank) en Joshua Esau (slot) elkeen een keer agter die doellyn gaan kuier het. Wilhelm Sollaman (losskakel) het al ses drieë verdoel en ook met twee strafskoppe geslaag.
Joswin Esau was die speler van die wedstryd.
Die tweede spanne het met 14 - 14 gelykop gespeel. Silver Stars het rustyd met 7 - 6 voorgeloop.
Vir Seagulls het Teswill Rhoda (linker-vleuel) hul enigste drie aangeteken met Delano Jacobs (heelagter) wat met drie strafskoppe suksesvol was.
Gershom van Rooyen, blitsvinnige regtervleuel van Seagulls, klop hier drie teenstanders op pad na sy drie.
Jerome Esau, Seagulls-linkervleuel, probeer hier 'n verdediger van Silver Stars ontduik.
Hier was Seagulls te laat om dié drie te keer. Foto's: Richard Webb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’