Gallery
STILBAAI NUUS EN GALERY - Seagulls van Melkhoutfontein het sy plek boaan die puntelys in die Super B-liga verstewig deur Riversdal Blues Saterdag in 'n klipharde derby met 22-20 te wen.
Dié uitslag was tot kort voor die einde nog in die weegskaal met veral die Blues wat aanval na aanval op Seagulls se doellyn uitgevoer het, maar die tuisspan het rotsvas verdedig.
'n Onderskepdrie in die laaste minute het die Blues se kanse 'n nekslag toegedien en sy ondersteuners met hangskouers huis toe gestuur.
FOTOGALERY: Seagulls verdien hulle plek
Tipies van 'n derby was die stryd voorlangs kliphard, maar nie een van die spanne het mekaar oordonder nie. Agterlangs was dit ook 'n redelik gelykopstryd, maar 'n paar spelers van albei spanne het die oog gevang met puik individuele spel. Maar dat dit tot aan die einde 'n spannende wedstryd was, sal niemand betwis nie.
Duane Deutchen, hoofafrigter van Seagulls het aan Suid-Kaap Forum gesê die tuisveldvoordeel het wel 'n rol gespeel, maar dis eerder 'n geval van dat sy spelers dinge reg gedoen het. "Maar ons sal moet werk maak daarvan om nie ons teenstanders toe te laat om terug te kom in 'n wedstryd as ons voorloop nie. As jou neus voor is moet jy daarop gefokus wees om die uitklophou te plant. Ons was soms ook te oorhaastig en kon langer aan die bal vasgehou het."
Wilbur January, puik losskakel van Riversdal Blues, probeer deur 'n gaping glip met Seagulls se Reagan Riddles (links) en Wilhelm Adams (regs) wat hom probeer stuit.
Sy eweknie by die Blues, André Goliath sê sy span het weer karakter gewys en veral beïndruk met hul terugvegpoging laat in die tweede helfte.
"Ons was mededingend in die skrums en met ons rolmaalbewegings het ons meters veld gewen. Maar oorhaastigheid en talle verbroude aangeë wat op die aanval verlore gegaan het, het ons ondergang beteken. Ons kruisverdediging sal ons ook moet opskerp, want dit het ons die wedstryd gekos toe hulle die bal onderskep en gaan druk het."
Vir die wenspan het Jason Jacobs (haker) en die agtsteman John Busch uitgeblink en agterlangs was Wilhelm Adams (losskakel), Lötter Pretorius (skrumskakel) en Gershon van Rooyen (vleuel) voortreflik.
Die Blues se kaptein en senter, Jaco Arendse, was oudergewoonte puik op die aanval en verdediging en so ook die flank André Sphocter, wat in die lynstane en op verdediging die oog gevang het.
Seagulls speel Saterdag teen die All Blacks terwyl die Blues vir Mosselbaai tuis aandurf. Dis 'n wedstryd wat hulle met 'n bonuspunt moet wen om nog in die wedloop te bly.
Jason Jacobs, skitterende haker van Seagulls, wikkel hom los uit die verdediging van Anton Saayman. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'