Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub het Saterdag 25 Junie hul wraak teen Spring Roses van Oudtshoorn geneem en die besoekers lelik laat verlep met 'n sege van 67 - 14.
Met dié oorwinning het Seagulls die bordjies verhang ná hul nederlaag met 32 - 19 in die eerste ronde-wegwedstryd, en terselfdertyd hul kanse verbeter om onder die voorlopers in die SWDRU Superliga B in te skuif.
Seagulls was rustyd met 36 - 0 voor.
Vanaf die afskop Saterdag was dit duidelik dat Seagulls alles in die stryd gaan werp om hulle stempel af te druk.
Dit het hulle ook reggekry deur met aanvallende spel en rotsvaste verdediging 10 drieë in te ryg, teenoor Roses se twee drieë wat laat in die wedstryd aangeteken is.
FOTOGALERY: Seagulls-rugbyklub teen Spring Roses
Seagulls se puntemakers was Gershom van Rooyen (heelagter) en Reagan Riddles (losskakel) met twee drieë elk, terwyl Jonathan Lombaard (linkervleuel), Willem Hendricks (skrumskakel), Hyron October (flank), Ritchie Baker (plaasvervangerslot), Tobias Swarts (plaasvervanger skrumskakel) en Tezwill Rhoda (plaasvervanger linker-vleuel) elkeen ook 'n drie gedruk het.
Nathan Buis van Seagulls (links) sak soos 'n valk toe op sy teenstander van Spring Roses.
Riddles het sewe van die 10 drieë verdoel en een strafskop bygevoeg.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span net-net met 29 - 26 deurgeskuur nadat hulle rustyd met 22 - 19 voorgeloop het.
Die puntemakers vir Seagulls was Tobias Swarts (regtervleuel), Emile October
(senter), Lazlo-John Paulsen (senter) en Edmund Nomdo (haker) wat elkeen 'n drie gedruk het. Delano Jacobs (losskakel) het met drie doelskoppe en een strafskop geslaag.
Seagulls het Saterdag 2 Julie 'n loslootjie en speel Saterdag 9 Julie weg teen Mosselbaai.
Jerome Easau bars deur die verdediging met die bal onder sy arm.
Jonathan Lombard van Seagulls laat 'n verdediger van van Spring Roses in die stof byt op pad na sy drie. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'