STILBAAI NUUS - Riversdal het hulle Saterdag 18 April teen drie omgekrapte Seagulls-spanne vasgeloop en moes met al drie spanne op die Graveyard in Melkhoutfontein die knie buig.
Die C-span het die tafel gedek met hulle oorwinning van 19 - 3, nadat hulle rustyd met 12 - 3 voorgeloop het.
Die sterk voorry Kerr Lombaard, het twee keer oor die doellyn gebars en die linkervleuel, Rashaad Amsterdam, het ook gaan druk. Twee doelskoppe deur die regtervleuel, Nyirenda Benson, het die eindtelling op 19 - 3 te staan gebring.
Vir die B-span het die plaasvervanger, Kerr Lombaard, gaan druk en Chad Arendse die regtervleuel is ook oor die doellyn. Die heelagter, Angelo Saayman, het met 'n strafskop geslaag, terwyl die plaasvervanger Thyron Vaaltyn, met twee doelskoppe geslaag het om Seagulls met 17 - 8 te laat wen.
In die hoofwedstryd was Seagulls baas met die eindtelling 37 - 29. Die haastige regtervleuel, Owen Pietersen, is twee keer oor die doellyn en daar was ook drieë deur Rejovaan Fortuin (flank) en die voorry Roland Pieterse. Die losskakel Ashwin Botha het met sy akkurate skopvoet drie strafdoele en vier doelskoppe bygedra.
Seagulls reis Saterdag Albertinia toe vir hulle wedstryd teen Albertinia Rangers en hoop om hulle derde plek op die punteleer te verbeter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’