STILBAAI RUGBY NUUS - Groot opgewondenheid het onlangs by Laerskool Bertie Barnard geheers toe die SA Rugby Legends die skool vir 'n afrigtingskliniek besoek het.
Die legendes bestaan uit oud-internasionale en provinsiale rugbyspelers wat hulle talent gebruik om in rugby terug te ploeg.
Die naweek het met 'n afrigtingskliniek Vrydagmiddag begin, wat goed deur spelers, hul ouers en grootouers bygewoon is.
Onder leiding van die oud-Springbokafrigter Ian McIntosh het manne soos die oud-Springbokslot Adrie Geldenhuys, Rico van der Linde, Conrad Breytenbach en Johan Kapp die spelers en hulle afrigters deur hul passies gevat. Nie eers die tierende wind kon hulle geesdrif demp nie.
Op 'n vraag aan die 84-jarige McIntosh hoekom hy steeds die land vol toer om hierdie afrigtingsessies aan te bied, was sy antwoord: "Nobody told me to stop!"
McIntosh is 'n merkwaardige kenner van die spel met 'n brandende passie vir dit wat hy doen.
Die legendes het ook tyd ingeruim om twee fondsin-samelingsgeleenthede vir Bertie Barnard by te woon. Hulle het Saterdagmiddag ook 'n draai gemaak by die rugbywedstryd tussen Seagulls en die All Blacks van Oudtshoorn, wat deur Seagulls gewen is.
Die oud-Springbokafrigter Ian McIntosh besig om rugbyspelers van Laerskool Bertie Barnard touwys te maak.
Die SA Rugby Legends wat Laerskool Bertie Barnard vir 'n afrigtings-kliniek besoek het is van links: Adrie Geldenhuys, Ian McIntosh, Johan Kapp en Rico van der Linde. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'