HESSEQUA NUUS - Die jaarlikse Hessequa Paasfees-rugbytoernooi skop Saterdagmiddag om 13:00 by die Riverville-stadion af met ses spanne uit dié streek wat mekaar in drie wedstryde sal aandurf.
Riversdal Blues en Heidelberg pak mekaar om 15:30. Die Blues sal oorgehaal wees om te vergoed vir hul nederlaag van verlede Saterdag teen Knysna, voorlopers in die Super B-liga.
Knysna het hulle met 25-9 geklop nadat hulle met halftyd met 5-3 voor was.
Anton Goliath, afrigter van die Blues, het aan Suid-Kaap Forum gesê as mens in ag neem dat bykans 70 persent van die gereelde eerstespanspelers beseer was, het hulle hul goed van hul taak gekwyt.
"As ons op volle sterkte was, sou die gaping in die eindtelling beslis kleiner gewees het. Ons het werklik soos tiere verdedig, maar ons ondergang was dat ons te veel onnodige hanteerfoute begaan het en talle kanse verbrou het om punte aan te teken. Dis veral ons uitvoering op die aanval wat teleurgestel het. Dis waar ons grootliks tekort geskiet het."
Twee spelers wat uitgeblink het was die kaptein en binnesenter, Jaco Arendse, en die flank Codian Michaels, wat 'n yster was.
‘Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus’