RIVERSDAL NUUS - 'n Propvol rugbyprogram Saterdag gaan baie manne van die tuin af weghou en in die kombuise sal daar ook seker nie vreeslik gebak en gebrou word nie. Nou wat is verkeerd daarmee?
Die klubrugbyseisoen se tweede ronde wedstryde word almal tuis in Hessequa aangebied.
By Hoër Landboubskool Oakdale begin die o.15A's reeds om 08:30 teen Rondebosch Boys' High met die eerste span wat om 13:00 teen die Kaapse besoekers kragte meet.
In die Riverville-stadion speel die SWD se "klein skole " om 09:00 tot om 11:00 en om 12:15 begin Riversdal Blues se C-span sy wedstryd teen George.
Die SWD Arende pak die EP Olifante om 15:15 en dit behoort toeskouers soos 'n mangeet aan te trek. Die Blues se eerstes pak George om 17:00 vir die eerste keer sedert 2018 en vir sy ondersteuners sal dit soos 'n wraakwedstryd wees om op te maak vir dáái verloor in die eindstryd van die Presidentsliga.
Rhyno Jacobs, hoofafrigter van die Blues, het in 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum gesê die verloorslag met 29-26 teen George lê nou nog vars in hul geheue, want dit het die Blues uit die Premierliga gehou. "Nou kry ons kans om op te maak vir daai teleurstelling."
Jacobs sê Blues het 'n goeie mengsel van ervaring en jeug in sy span wat goeie balans bring.
"Ou hande soos Jaco Arendse, kaptein en senter, Andries Spochter en die skopgeneraal Wilby January (losskakel) sal beslis 'n kalmte na die span bring wat veral die jongers spelers sal baat. Ons speel nou in die topliga en dit bied groot uitdagings."
Hy sê hul mikpunt is om vanjaar in die topses te eindig sodat hulle in die Super A-liga kan bly meeding. "Ons sterkpunt is ons aanvallende spel en hoewel ons spelers nie fisiek so groot is as baie ander spanne nie, glo ek ons sal sterk kan meeding.
"Ons het die opwarmingswedstryde hoofsaaklik gebruik om proefnemings te doen en het die beste daaruit geneem om ons spelpatroon op te bou."
Lyndon Hartnick, kaptein van Heidelberg, bemeester 'n bal in die lynstaan teen Groot-Brakriver. Sy ervaring en kalmte wat hy na die span bring, was weer goud werd in die naelskraapse oorwinning met 24-22. Foto's: Heinrich Fortuin
Heidelberg, wat verlede jaar in die eindstryd van die Super A-liga vasgeval het, speel op sy tuisveld teen Maori's. In hul eerste wedstryd verlede Saterdag teen Groot-Brak het Heibi naelskraap met 24-22 gewen nadat hulle teen rustyd nog met 15-7 agter was.
"Maar toe het ons die grofgeskut ingestuur en groot karakter en veggees getoon om dié taaie deur te hak," vertel sy hoofafrigter, Johann Erasmus. "Ons kaptein, Lyndon Hartnick, het 'n kalmte uitgestraal en daarom was ons nie paniekbevange nie, selfs toe ons al met 19-7 agter was.
"Maar ons sal moet waak teen inhaalruby speel. Teen sterker spanne gaan jy dalk nie kan inhaal nie. Ons sal ook moet werk aan ons uitvoering."
Erasmus sê Heibi se hul missie is om vanjaar elke wedstryd soos ware vegters te benader. "Ons wil veggees toon van meet af aan en kameraadskap teenoor mekaar uitoefen.
"Ons mik daarvoor om in die tweede week van Oktober ons piek te bereik."
Hy was vol lof vir die nuweling uit van Slangrivier, Zandré (Mr Bean) Hopp, wat in die voorry rotsvas was teen Groot-Brak.
Seagulls het Prins Albert op hul tuisveld naelskraap met 23-22 geklop. Danksy hul goeie voorseisoens voorbereiding kon hulle dié ene deurtrek en die krag van Prins Albert se swaar aggtal weerstaan.
(Ons het telefonies kontak probeer maak met Albertinia Rangers en Riversdal-dorpsklub, maar sonder sukses. – Red)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’