RIVERSDAL NUUS - Riversdal Dorp-rugbyklub bied die komende naweek sy eeufeesvieringe by Die Steg op die dorpsveld aan.
Dié rugbyklub is vanjaar 130 jaar oud en is waarskynlik, na Oudtshoorn-klub, die tweede oudste rugbyklub in Suid-Afrika.
"Ons het 'n trotse tradisie en ons wil alle inwoners hartlik uitnooi om te kom deel in Riversdal se ryke rugbygeskiedenis," sê Thurlow Herdien, voorsitter van Riversdal.
"Dis nie eksklusief net vir lede van die klub nie, maar ons wil na alle Riversdallers uitreik en hulle nooi om deel te word van die vieringe."
Daar is 'n volgepakte program wat reeds op Vrydagmiddag 25 Oktober om 16:00 afskop met 'n speletjiesaand by die klubhuis onder die hoofpawiljoen. Daar sal in veerpyltjies en domino's meegeding word en inskrywingsgeld is R20 per persoon. Daar is verskeie pryse is op die spel.
Die klub beskik ook oor 'n kontantkroeg waar 'n lafenissie aangeskaf kan word.
Maar die hoogtepunt breek Saterdagoggend om 09:00 aan wanneer ses gemengde rugbyspanne om groot prysgeld gaan meeding. In die A-afdeling kry die wenspan R5000 en in die B-afdeling R1500. 'n Speler van die toernooi word ook aangewys en dié wenner kry ook 'n prys.
Vir kinders is daar springkastele en 'n springsessie van 2 minute kos R5. Daar is ook 'n snoepie waar heerlike eet- en drinkgoed te koop aangebied sal word.
Toegang vir volwassenes is R20 en vir kinders en motors slegs R10.
Saterdagaand sal DJ Ufoniic van 19:00 af tot om omgeveer 21:00 die musiek verskaf en dit kan jy bywoon vir slegs R20 per persoon.
Thurlow nooi weer eens alle inwoners om saam met Riversdal-dorpsklub hierdie besonderse mylpaal te kom vier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’