RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike Rangers-rugbyklub het die Paasnaweek vir Buffaloes van Buffeljagsrivier 'n behoorlike drag slae in 'n vriendskaplike wedstryd gegee.
Rangers, wat as die gunsteling beskou is, het geen genade getoon nie en die wedstryd gemaklik met 68-7 gewen.
Alhoewel dit 'n vriendskaplike wedstryd was, het die tuisspan baie karakter getoon en gewys dat hulle moeilik in die Presidentsliga-streek geklop sal kan word.
Nuwe jong aanwinste by Rangers, Nathan Laverlot, Abe Riddles en Curnel Sullman het gewys wat in hulle steek en omtrent die veld vol gespeel. Veral heelagter Sullman het die afrigters beïndruk met pragtige hardlooprugby en hy is met twee drieë beloon. Riddles, Rangers-stut, het ook 'n pragtige drie gedruk. Rangers A-span het 10 drieë gedruk, terwyl die besoekers net een drie kon druk. Die B-span het ook hul kant gebring en hul wedstryd met 31-20 gewen.
Puntemakers
A-span: Drieë - Curnel Sullmun (2), Alan Samaai (1), Jonathan Matiso (2), Bronwin Valtyn (2), Werner Manho (1), Abe Riddles (1) en die reserwe, Kale-Lee Duitser (1). Doelskoppe: Keanan Tarentaal (6).
B-span: Drieë - Heinrick Swartz (2), Brandon Buys (1), Damian Buis (1) en Bradley Saayman (1). Doelskoppe: Abraham September (3).
Rangers A-span na die vrienskaplike wedstryd teen Buffaloes (Buffeljagsrivier). Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'