ALBERTINIA RUGBY NUUS - Rangers van Albertinia het Saterdag, 15 Junie byna dieselfde pad as die Blues teen Seagulls gestap. Hulle het met 'n naelskraapoorwinning van 18-17 op hul tuisveld weggekom.
Die besoekers het met oorgawe die veld opgedraf en met pragtige hardloop-rugby vorendag gekom.
Hulle rotsvaste verdediging en balhantering was merkwaardig. Rangers kon net nie aan die gang kom teen die jongeling van Seagulls nie. Hulle het waarskynlik Saterdag hulle swakste wedstryd van die jaar gespeel.
Seagulls se skrumwerk was indrukwekkend, want hulle het die swaarbelaaide agtal van Rangers 'n paar keer teruggeskrum.
Albertinia se tuisskare was glad nie beïndruk met die manier waarop hul span gesukkel het teen 'n span soos Seagulls nie. Tog het die tuisspan die besoekers onderskat en kon net twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Alle lof aan die afrigters en jongspan van Melkies, wat alles in die stryd geplaas het. Rangers se A- en B-spanne het beide met 'n oorwinning gespog.
Driedrukkers by Rangers A-span was Jonathan Matiso en Bronwyn Vaaltyn en die skopper was ook Jonathan Matiso.
Die B-span se driedrukkers was Keanon Tarentaal (2) Abraham September (1) en Shonnie Jansen, die een strafdrie, deur skopper Keanon Tarentaal het sy puntetotaal tot 19 vir sy span opgestapel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'