ALBERTINIA NUUS - In 'n naelbytwedstryd in die SWD Presidentsliga wen Rangers op Saterdag 12 Augustus naelskraap met 26-25 op hul tuisveld teen Harlequins van Oudtshoorn en verseker so hul plek in die halfeindstryd.
Die rustydtelling was 12-8 in die tuisspan se guns. Die paviljoen was volgepak met ondersteuners van beide spanne en die toeskouers het elke oomblik van die wedstryd geniet. Onder die spelers het die gemoedere soms aan beide kante hoog geloop.
Rangers druk twee drieë in die eerste helfte, waaronder 'n pragdrie deur hul heelagter, Jerome Esau. Hy het sy opponente deurgaans aan die raai gehad en sy slim spel is gou beloon. Hul teken nog twee drieë na rustyd aan. Slegs een drie kon nie verdoel word nie. Buiten Esau het Alwin Swanepoel, Jonathan Mathiso en sy broer Conray drieë gedruk. Die skrumskakel, Keanan Tarentaal het die skopwerk behartig. Die span word deur Abri Nomdo en Abel Saayman afgerig.
Rangers se B-span het hul kwarteindstryd teen Springroses gespeel en hulle gemaklik met 35-22 geklop. Die losvoorspelers Christo Jantjies, Danville Matthee en Quinton September was weer op hul stukke. Die senter, Denvor Erasmus het die wind gou uit die besoekers se seile met 'n onderskepdrie onder die pale gehaal. In totaal druk die span ses drieë.
Die ander driedrukkers is Werner Manho, Bronwyn Vaaltyn, Elroy Buis, Jantjies en September. Skopwerk is deur Elroy en Adri Buis waargeneem.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'