Gallery
HESSEQUA NUUS EN GALERY - Kom ons wees eerlik: nie baie mense was optimisties oor Oakdale se wenkanse Saterdag teen Grey Kollege van Bloemfontein nie. Die besoekende Vrystaters het waarskynlik gedink dié ene is in die sakkie.
Grey is immers een van Suid-Afrika se topskole as dit kom by rugby en Oakdale kon hulle nog nooit klop nie.
Toe sorg Oakdale amper vir een van die grootste opskuddings in skolerugby deur 'n gelykopuitslag (17 elk) af te dwing.
FOTOGALERY: Oakdale se groot opskudding
Dit moes Grey-ondersteuners tot in hul fondamente geskud en die pad terug na Bloemfontein ekstra lank gemaak het.
As jy 'n Oakdale-ondersteuner was, is dié uitslag so na aan 'n oorwinning soos demmit aan 'n vloekwoord. Tot kort voor die einde was die tuisspan nog die voorloper en het waarskynlik die grootste gros toeskouers langs die veld gedink hier kom 'n skok.
Malan du Plessis, hoofafrigter van Oakdale het aan Suid-Kaap Forum gesê hulle het geglo hulle het 'n wenkans teen Grey.
"Ons het hul vertonings die afgelope tyd met arendsoë dopgehou en ook video-ontledings van hul afgelope klompie vertonings gedoen om hul sterk- en swakpunte te ontleed.
"Ons het veral besluit om hul opskietverdediging uit te buit deur ons aanvalsrigting te verander. Maar ons is tevrede met die vertoning, want Grey bly maar die maatstaf waarteen alle skole hulle meet.AJ van Vuuren (met bal) het Grey se verdediging 'n paar keer getoets met sy kraglopies.
"Dit was natuurlik 'n hoogs emosionele week vir ons met dié dat ons rugbykaptein, Francois du Toit se ma verlede Donderdag begrawe is en die skoknuus dat 'n oudskolier van Oakdale, Pedrie Wannenburg tragies oorlede is.
"Boonop kon ons weens die Covid-19-pandemie vir bykans twee en 'n halwe jaar nie mededingende rugby speel nie."
Malan sê rotsvaste verdediging en goeie spel op die grond het waarskynlik die grondslag gelê vir dié goeie vertoning.
In 'n puik spanpoging het Ramon Uys (agtsteman), Kobus Janse van Rensburg (senter), Armand Combrinck (flank) en Marco Conradie (loskopstut) die oog gevang met hul voortreflike spel.
Vir Oakdale het Marco Conradie (stut) en James Jonker (senter) drieë gedruk en Kobus Janse van Rensburg (senter) het met twee doelskoppe en 'n strafskop geslaag.
James Jonker, sterk senter van Oakdale, storm doellyn toe nadat hy twee verdedigers van Grey geklop het. Links is sy spanmaat Therlow Prins. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'