Gallery
RIVERSDAL NUUS - Met 'n kliniese en afgeronde vertoning het Oakdale se eerste span Saterdagmiddag die besoekende Framesby heel gemaklik met 45 - 10 oorrompel.
Die tuisspan het sewe drieë gedruk met Eric Steyn (agtsteman), Therlow Prins (vleuel) en Louis Fourie (senter) wat al drie 'n tweekuns aan drieë behaal het.
Waylon Kortjie (heelagter) het ook gaan druk terwyl Zandré Conradie (losskakel) met ses doelskoppe in die kol was.
Oakdale het die sege reeds in die eerste helfte verseker met sy agttal wat voorlangs oorheers het. Framesby is veral in die skrums en lynstane onder groot druk gesit en dit het die Bulle se baldraers soos 'n handskoen gepas en hulle in staat gestel om die besoekers se doellyn gereeld aan te val.
Hier het spelers soos Marco Steyn (stut en kaptein), JC van Wyk (haker), Roy Viljoen (slot) en veral Erick Steyn (agtsteman) gebaljaar met die bal in die hand. Veral Eric Steyn was iets ysliks op die aanval en sy ondersteunende spel en aanvoeling uitstaande.
FOTOGALERY: Oakdale karnuffel Framesby
Roy Viljoen (slot) steel die bal in die lynstaan.
Maar in 'n wenspan is dit moeilik om uitblinkers uit te sonder, veral as jy so oorheers.
Framesby, vuisvoos na die bom hulle in die eerste helfte getref het, het hul spelpeil gelig in die tweede helfte, hul verdediging opgeskerp en ook heelwat beter aangeval.
'n Drie en 'n strafskop naby die einde het darem effens troos gebring vir die besoekers, maar hulle sal erken die Bulle het hulle goed gekarnuffel.
Waylon Kortjie gaan op loop met die bal met 'n verdediger van Framesby wat hom tevergeefs probeer pootjie. Louis Fourie (links) en Kurt Coetzee is byderhand om hom te ondersteun.
Erick Steyn (agtsteman) gaan druk sy tweede drie. Hy het weereens uithalerspel gelewer.
Therlow Prins word net betyds aan sy trui beetgekry deur 'n speler van Framesby met sy spanmaat JC van Wyk wat opvolg. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’