RUGBY NUUS- Dis nie uitgesluit dat die SWD later vanjaar met 'n nuwe rugby-akademie sal kan spog nie. As dit die groen lig kry, sal dit by Outeniquapark gesetel wees.
Na verneem word sal dit 'n privaat instansie wees.
George Herald verstaan die aangeleentheid het verlede week tydens 'n vergadering by Outeniquapark ter sprake gekom. Die vergadering is bygewoon deur afvaardigings van die George-munisipaliteit en SWD-rugby.
Leon van Wyk, George-burgemeester, was onder meer teenwoordig.
Blykbaar is 'n voormalige Springbok-rugbyspeler van die Kaap daarby betrokke. As dit voortgaan kan dit glo reeds in Oktober in bedryf wees.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het Dinsdag by navraag bevestig dat sulke planne in die pyplyn is.
Hy was baie behulpsaam, maar het benadruk dat niks nog gefinaliseer is nie.
As dinge in plek sou kom, sal 'n aankon-diging met meer besonderhede later gemaak word.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die stadsraad, het ook sy bywoning van die vergadering by navraag bevestig.
Die stadion behoort aan die munisipaliteit. Volgens Wessels wou SWD weet of hulle kan staatmaak op die steun van die munisipaliteit. "Die stadsraad/munisipaliteit steun dit in beginsel. Dit pas in by die opgradering van die stadion van R1 miljoen."
Van Wyk het gesê die stadsraad/munisipaliteit is opgewonde oor die moontlike vestiging van 'n rugby-akademie. Indien dit voortgaan, kan dit die SWD Arende help om meer mededingend te wees. Dit kan ook voordele vir George inhou. George-munisipaliteit sal beslis verder met SWD-rugby gesels om die vordering te fasiliteer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'