RUGBY NUUS - As toeskouergetalle 'n aanduiding is van die gewildheid van 'n spesifieke sportsoort, dan moet klubrugby in die SWD, wat Hessequa insluit, loshande koning kraai.
Geen ander sportsoort trek dieselfde hoeveelheid toeskouers as juis klubrugby in dié geweste nie.
Dis verlede Saterdag op Outeniquapark weereens duidelik onderstreep tydens die eindstryde van die SWD se onderskeie klubrugbyliga's met bykans 8 000 toeskouers wat Outeniquapark volgepak het.
Daar was nie 'n oop sitplek op die pawiljoene te siene nie en in die rugbylosies het dit gejubel en gejuig. Die rugbygees was bruisend so in die nadraai van die Wêreldbekertoernooi wat pas in Frankryk afgehandel is.
Dis of daardie gees na George oorgespoel het. Maar 'n goeie opkoms van toeskouers by klubrugby in die Tuinroete en Hessequa is lank reeds 'n gegewe. Dis niks ongewoond om groot getalle toeskouers by 'n gewone klubrugbywedstryd te sien nie. Dis die normaal in die SWD.
Uitbundige toeskouers wat klubrugby in die SWD met passie ondersteun.
Dis nie asof daar net 'n handjie vol toeskouers opdaag nie. O nee, hier omring die toeskouers 'n veld op 'n Saterdagmiddag en ontaard dit in 'n heerlike familiebyeenkoms met vriende en familie om braaivleisvure. Gazebo's word om die veld opgeslaan en die onderlinge gekuier en gekwetter van mense dra by tot die feestelike atmosfeer.
En die kleintjies speel net so vurig rugby in die doelgebied en ding mee asof daar nog 'n Wêreldbekertoernooi aan die gang is.
Nêrens in Suid-Afrika is klubrugby so kerngesond en word dit so hartlik ondersteun as juis in die SWD nie. Senior bestuurslede van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het dit al telkemale erken.
Heidelberg-ondersteuners reg vir die eindstryd, wat Groot-Brak uiteindelik met 28-25 gewen het.
Soveel so dat toe hulle die nuwe munisipale klubrugbyreeks in Suid-Afrika begin het (dis nou voor die Covid-19-pandemie toegeslaan en alles tot stilstand gebring het), was die besluit eenparig: loods dit eerste in die SWD. Dis ongelukkig net vir een jaar aangebied, maar hopelik word dit weer spoedig hervat.
Lank lewe SWD se klubrugby.
Outeniquapark verlede Saterdag volgepak vir die onderskeie eindstryde van die SWD se klubrugbyliga's. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’