HEIDELBERG RUGBYNUUS - Heidelberg-rugbyklub is besig om groot opskudding in die SWD te maak. Die klub het sommer ook die dorp nuwe lewe gegee.
Heibi speel hierdie jaar in die boonste liga van die SWD en nou, halfpad deur die seisoen, het die klub ses uit die sewe wedstryde gewen en lê hoog op die puntelys. Onthou, dis premierliga! Die wenne is almal teen bulspanne; spanne wat elke jaar teen mekaar speel en wat verskeie SWD-spelers in hul geledere het.
En hier kom Heibi, ’n klein dorpie langs die N2 en speel hulle van hulle voete af - met fyn-uitgewerkte rugbyplanne.
Hoe kry die klub dit reg? Die rugbykenners van die dorp sê die klub speel ’n ander soort rugby as wat die SWD-spanne gewoond aan is. Dit gaan lankal nie meer oor swaar voorspelers wat platvee en oor die doellyn stoomroller nie. Hulle meen die klub bring ’n kwaliteit rugby na SWD toe wat die provinsie se rugby net kan verryk en op ’n hoër mededingende vlak plaas.
Hierdie naweek is deurslaggewend vir rugby, want die kampioenspan wag vir Heibi in George – ’n wegwedstryd. Die dorp se mense, op die hoek in die dorp, sê hulle taxigeld is klaar betaal - hulle wag ook! Hulle weet - vir Heibi is dit meer as net die rugby – dis eintlik ’n projek.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'