ALBERTINIA NUUS - Albertinia Rangers het Saterdag, 12 Februarie hulle tweede vriendskaplike rugbywedstryd op eie bodem teen Groot-Brakrivier gespeel.
Die pawiljoen was volgepak met die plaaslike ondersteuners en besoekers om die wedstryd te sien. Groot Brak, wat in die premierliga rugby speel, het die tuisspan met 38-10 gewen.
Dit het die jong Rangers-span nie ontmoedig nie en hulle het gewys dat hulle reg is vir die 2022-rugbyseisoen. Hulle het die meer ervare span by tye goed laat rondstaan met hulle agterlyn aanvalle.
Die afrigters het die span geloof met hul goeie vertoning, ten spyte daarvan dat hulle verloor het.
Rangers se B- en C-spanne het ook hulle rieme styfgeloop. Spelers soos Jonathan Mathiso van die A-span het goeie aanvallende rugby gespeel, asook Edwin Junior Pieterse en Waldo de Koker van die B-span, wat gewys het dat hulle rekening mee gehou moet word.
Albei Rangersspanne het op Saterdag, 5 Februarie op Mosselbaai teen Titans gespeel en beide hulle wedstryde gewen.
Foto: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'