HEIDELBERG NUUS - Twee leerders van Kairos Senior Sekondêre Skool, Dieriego September en Corrico Silvester, beide talentvolle rugbyspelers, benodig dringend finansiële hulp om hulle in staat te stel om in Italië en Nederland aan hul geliefde sport op die hoogste vlak deel te neem.
Dieriego, 'n gr. 12- leerder wat ewe tuis op senter of agtsteman is, en Corrico, op slot, sien daarna uit om hul talente teen van die bestes van die twee lande ten toon te stel.
Hulle is ná ’n onlangse toernooi in Kuilsrivier, genaamd die Patriot-sportfees, gekies om die Rhino/Beal-rugbytoer mee te maak wat jaarlikse na die sportfees aangekondig word.
Die twee sit egter met ’n groot probleem wat betref die groot onkoste vir die toer, wat vanaf 3 tot 12 Oktober plaasvind. Die onkoste vir elke deelnemer beloop meer as R40 000 wat teen R10 000 per maand betaalbaar is. Die eerste betaling moet teen 30 April betaal word,en daarna maandeliks tot einde Julie met die balans teen einde Augustus 2025.
Beide die jongmanne wil bitter graag die eens-in-'n leeftyd geleentheid ten volle benut en doen ’n ernstige beroep op enigiemand wat hulle weg oopsien om hulle finansiël te ondersteun om hul drome te bewaarheid.
Skole wie se leerders gekies is om die toer mee te maak, word geensins verplig is om die leerders finansiël te ondersteun nie. Dié onus rus op die skouers van die leerders en hul ouers om die geld in te vorder.
Die twee se ouers kan onderskeidelik by 084 403 5613 (Lilanie September) en 076 773 5419 (Berny Silvester) geskakel word vir enige hulp, hoe gering ook al.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’