HESSEQUA NUUS - Mens kan nie juis veel wys word uit 'n vriendskaplike rugbywedstryd nie. Hessequa se Paasfeestoernooi het wel 'n horde toeskouers gelok wat hul uitstekend gedra en ondernemende spel met groot entoesiasme begroet het.
Daar is groot gewag gemaak van die hoofkragmeting tussen die Riversdal Blues en Heidelberg, maar as 'n skouspel het dit nie aan al die verwagtinge voldoen nie.
Albei spanne het met gelapte spanne op die veld gedraf met die besoekers beslis die gunsteling om as oorwinnaars van die veld te stap.
FOTOGALERY: Heidelberg vat die wentrofee
Dit het hulle verspot maklik reggekry deur die Blues met 62-13 te klop.
Die Blues, wat reeds gebuk gaan met 'n klompie beserings aan gereelde eerstespanspelers, is verder uitgedun na nog 'n paar spelers tydens die wedstryd beseer is.
Heidelberg het met 'n gemengde span opgedraf met spelers wat uit hul laer spanne ingebring is vir groter blootstelling. Voorlangs het Heidelberg oordonder, veral in die skrums en vaste spel.
En toe die damwal net voor rustyd bars, kon die tuisspan nie die swart golf keer nie. Toe het dit drieë begin reën.
In 'n verloorspan is dit moeilik om uitblinkers uit te sonder. Maar aan Heidelberg se kant was sy kaptein, Fernell Pretorius (slot), uitstekend en het hy die span baie goed bymekaar gehou. Dié bulslot het werklik uitgetroon.
Zanovuyo Johannes (senter) op pad na 'n skitterende drie nadat hy goed vier verdedigers van die Riversdal Blues in die lug laat gryp het.
Blake Morgan (vleuel) het ook 'n baie goeie wedstryd gehad en hy het 'n paar keer sy teenstanders teen die kantlyn met spoed geklop en 'n paar mooi drieë gaan druk.
Dan het die nuweling uit Riversdal, Zanovuyo Johannes (senter), in sy eerste wedstryd vir Heidelberg beïndruk met sy krag en spoed en ook twee keer gaan druk nadat hy met sy dartellopies die verdediging telkens op verkeerde voet gevang het.
Met sy kraglopies het hy 'n paar keer bo-oor sy veel kleiner teenstanders gestoomroller.
Saterdag pak die Blues vir Prins Albert in die Riverville-stadion.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'