HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 19 Mei sy rieme teen 'n goed geoliede Progress-kampioenspan vasgeloop.
Hulle het hul tweede wegwedstryd met 35-15 verloor, nadat hulle 14-0 rustyd agter was. Dit was hul tweede verloor van agt wedstryde in die eerste ronde.
Die wedstryd wat seker die tuisspan se grootste skare gelok het, het teen 'n hoë tempo afgeskop. Progress, met hul skrumskakel en kaptein, Mzoxolo Dyantyi aan die voorpunt, het binne die eerste 15 minute die wind uit hul besoekers se seile gehaal met twee blitsdrieë deur Dyantyi en Christo du Plessis. Beide is deur Fizell Fredericks verdoel.
Die kampioene het by tye die vaste spel behoorlik gedomineer. Beide spanne was aggressief in die losspel, maar het die tuisspan meer voordeel getrek.
Progress se groot pluspunt is verseker hul vermoë om die bal vir lang tye te dra en sodoende minder ongedwonge foute te maak. Heibi het te veel ongedwonge foute gemaak.
Ondanks die verloor kan Heibi se afrigters, bestuur en ondersteuners tevrede voel met hul vertonings tot dusver. Die nuwelinge in die Premierliga het baie geleer en sal hulle beter voorbereid wees vir die 'Bloutrein' se aanslag op 4 Augustus in hul tuiswedstryd.
Vir Progress het Justin Levendal met een drie en Ethan Williams met twee drieë gesorg dat hulle 'n bonuspunt inryg.
Jason Liebenberg en Simon du Toit het elkeen 'n drie vir Heibi gedruk. Corbin Swartbooi het met een straf- en een doelskop geslaag.
In die eerste wedstryd van die dag het Progress se derdespan met 34-0 gewen nadat hulle rustyd met 10-0 voor was. Heidelberg se tweedespan het die bordjies verhang en net-net met 18-17 gewen nadat hulle rustyd met 12-3 agter was.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'