HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het verlede Saterdag gewys dat sy nederlaag teen die verdedigende kampioen, Crusaders, hom nie heeltemal van stryk gebring het nie met 'n welverdiende sege van 38 - 0 oor George.
Dít nadat hulle rustyd met 24 - 0 voorgeloop het in hul SWDRU Superliga A-tuiswedstryd.
Ten spyte van die gure weer het Heibi van die afskop af die bal lug gegee en goeie aanvallende rugby opgedis.
Met vier drieë in die eerste hefte het Heibi reeds 'n bonuspunt verseker en in die tweede helfte nog twee keer agter die doellyn gaan draai.
Met die eerste rondte van die kompetisie nou afgehandel, bevind Heibi hulle aan die bopunt van die punteleer met 42 punte. Hy het net twee wedstryde verloor.
Crusaders het nog drie wedstryde oor in die eerste ronde en is tans derde op die punteleer met 38 punte.
Puntemakers vir Heibi was Berthal September (skrumskakel) met twee drieë, terwyl Lorenzo Gordon (regtervleuel), Jason Liebenberg (senter), Fernholdt Buis (linkervleuel) en Fernell Pretorius (slot) ook een keer gaan druk het. Corbin Swartbooi (heelagter) het vier drieë verdoel.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derde span met 34 - 5 koning gekraai, nadat hulle rustyd met 3 - 0 voor was.
Vir Heibi het MJ Hartnick (senter) drie keer gaan druk, met Eslin Pieters (linkervleuel) en Maurice September (flank) elk een drie. Tertius Josephs (losskakel) het met 'n doel- en strafskop geslaag, terwyl Veandré Carelse (plaasvervangerskrumskakel) met twee doelskoppe geslaag het.
In die wedstryd tussen die tweede spanne het Heibi met 54 - 0 geseëvier nadat hulle rustyd met 29 - 0 voorgeloop het. Hier het Heibi sewe drieë ingeryg om 'n waardevolle bonuspunt te verseker.
Puntemakers vir Heibi was A-Jay Appollis (3 drieë), Jenico Pieters (regtervleuel), Wildren Hartnick (linkervleuel), Beaugram van Niekerk (senter) en Khulekani Mchunu (flank) wat elkeen een drie gedruk het. Germain Hoogbaard (skrumskakel) het met ses doelskoppe en een strafskop geslaag, terwyl Carlo Williams (plaasvervangerheelagter) ook twee drieë verdoel het.
Heibi speel op 1 Julie weg teen Blanco van George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’