HEIDELBERG NUUS - Tydens 'n spoggeleentheid in die stadionsaal Maandagaand, 30 Maart, het Heidelberg-rugbyklub die span van 28 spelers, bestuur en afrigters vir die Paasnaweektoernooi aangekondig. Tydens dieselfde geleentheid het hulle ook hul nuwe truie in ontvangs geneem.
Jobieth Hoogbaard, voorsitter van Tuinroete-distriksmunisipaliteit se gemeenskapsdiensportefeulje, het as programdirekteur opgetree.
Die geleentheid is bygewoon deur Romano Lekay, toernooidirekteur, en hy het die geskiedenis van wyle Ebrahim Patel, president van die destydse SARU, aan die aanwesiges en veral die spelers voorgehou. "Julle as gemeenskapklub moet onthou dat julle as klub 'n belangrike rol speel in die ontwikkeling van die breë gemeenskap," het hy gesê.
Die hulpsekretaris, Agnes Wewers, het die aanwesiges en veral die borge, Hartline, bedank vir hul teenwoordigheid asook hul onbaatsugtige ondersteuning aan die klub.
Mervyn Zana, Heibi voorsitter, het ten slotte genoem dat hy volle vertroue in die spelers en afrigters het om dié keer met die louere weg te stap.
Die toernooi vind van 2 tot 6 April op Outeniquapark in George plaas en Heidelberg meet Donderdagaand, 2 April, kragte met SAFCOL United.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’