RIVERSDAL NUUS - Shannon Pieterse (19), 'n leerder van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr en 'n kranige vrouerugbyspeler, is vir die tweede agtereenvolgende jaar gekies om die o. 20 junior vroue Springbokspan te verteenwoordig.
As klein dogtertjie het sy daarvan gehou om rugby te kyk en saam met die seuns te speel. Dis in hierdie tyd wat sy haarself belowe het om eendag vir die Springbokke op die veld uit te draf.
Dié kranige speler het in 2019, op 15-jarige ouderdom, vir die eerste keer SWD se o.16-proewe gehaal.
In 2022 skryf sy in vir die SWD o.18-proewe in Welkom en haal weer die span. Met die laaste wedstryd het die Universiteit van Johannesburg vir haar 'n beurs aangebied om ná skool vir hulle te kom speel. Sy was skaars by die huis toe haar afrigter haar meedeel dat sy die junior Springbok o.20-span gehaal het.
In September het sy deelgeneem aan die Youth Training Centre-program (YTC) en met die eerste wedstryd word sy as speler van die wedstryd aangewys nadat sy 23 van die 33 punte aangeteken het. Boonop word sy wéér as senter vir die o.20 junior Springbokspan gekies.
Haar hoogtepunte op laerskool was toe sy as beste presteerder in sport aangewys is en later op hoërskool as sportvrou van die jaar. Volgens Shannon is vanjaar loshande die grootste hoogtepunt van haar sportloopbaan. "Ek het alles in my vermoë gedoen en hard gewerk om 'n sukses van my sportloopbaan te maak."
Haar langtermyndoel is om oor vyf tot 10 jaar vir die senior Springbokspan in die buiteland uit te draf, maar in hierdie stadium bly haar topprioriteit steeds skool, rugby, krieket, netbal en atletiek.
Shannon speel ook krieket vir die Riversdal-vrouekrieketklub en sy was ook deel van die SWD-krieketspan.
Mochelle May is haar grootste rolmodel alhoewel sy ook haar krieketafrigter is, maar May se jare lange motivering het by Shannon ingesink en dryf haar.
"Sy sê altyd moenie dat omstandig-hede jou agter hou nie," vertel Shannon.
Een van die belangrikste lesse in haar lewe wat sy as professionele sportvrou geleer het, is om nooit lui te wees nie en altyd oefeninge by te woon.
"Wanneer ek op die sportveld is, is rugby die enigste prioriteit juis omdat ek daarop gefokus is om elke wedstryd suksesvol te voltooi. Ek vat ontspanningsaktiwiteite soos dit kom."
Shannon Pieterse in aksie op die rugbyveld.
Gedurende die dag is sy by die skool, maar soggens voor skool gaan draf sy om aktief en fiks te bly. Sy maak ook 'n punt daarvan om middae ná skool te oefen. Spanwerk is vir haar baie belangrik. Uit haar ondervinding het sy geleer om mede-spanlede te motiveer en te respekteer sodat almal 'n kans gegun kan word.
Volgens Shannon is die grootste uitdagings vir vandag se sportvroue huishoudelike verantwoordelikhede wat hulle moontlik kan agter hou omdat hulle nie ondersteun word nie.
Ook die druk wat van alle kante op hulle geplaas word.
Haar motivering vir jong sportvroue is om hard te werk, op die regte dinge in die lewe te fokus en jouself altyd te motiveer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’