RIVERSDAL NUUS - Altesame 34 skole sal van Saterdag 1 April aan Hoër Landbouskool Oakdale se jaarlikse Klein Karoo Saadproduksie o.19-rugbyweek deelneem.
Die toernooi duur tot Woensdag 5 April met wedstryde vir Saterdag, Maandag en Woensdag geskeduleer.
Die Oakdale-rugbyweek is een van die oudste rugbyweke in Suid-Afrika en is inderdaad 'n prestige toernooi waar die beste klein, medium en groot skole bymekaarkom om hul spelers aan 'n groot toernooi soos dié bloot te stel en te evalueer hoe hulle vaar.
Baie skole gebruik ook die geleentheid om proefnemings te maak met spelers en hul spanne te finaliseer vir die besige seisoen wat voorlê.
In die kragmeting teen Rondebosch High verlede Saterdag het Oakdale se eerste span met 24 - 18 teen die besoekers vasgeval.
Die o.14A's het ook met 42 - 0 verloor, maar al Oakdale se ander spanne het gewen. Hugo Redelinghuys was by die o.19A-wedstryd met sy kamera.
Therlow Prins sool die bal pale toe.
Gerhard Ehlert breek weg met die bal.
Shaydon Fradie sny skerp deur dié duikslag terwyl hy vir ondersteuning loer.
Waylon Kortjé nael sterk af teen die kantlyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’