HEIDELBERG RUGBY NUUS - Crusaders-rugbyklub het Saterdag 14 Julie soete wraak geneem vir hul eerste ronde nederlaag teen Heidelberg in die SWDRU Premierliga.
Heibi verloor hul derde agtereenvolgende wegwedstryd met 25-40 op Parkdene. Dit was inderdaad 'n swart dag vir die besoekers, omdat al drie hul spanne hul wedstryde verloor het. Heidelberg se eerste span het ongedwonge foute op kritieke tye gemaak.
Crusaders het hulself goed in die vaste skrums laat geld teen die veel swaarder tuisspan se agttal met Dean Hopp, oud-Heidelberger en SWD Arende, asook SA o.21-haker aan die spits.
Die tuisspan het eerste punte aangeteken toe Mandelekosi Sam, agsteman, in die derde minuut vir die eerste van hul vyf drieë oorgegaan het. Henry Wolhuter, losskakel, kon dit egter verdoel nie.
Corbin Swartbooi, Heibi-heelagter, het kort daarna met 'n strafskop geslaag om die telling gelykop te maak. Wolhuter het dit weer met 'n strafskop opgevolg, maar die besoekers se voorsprong was van korte duur. Marquit September (senter), het die eerste van sy twee drieë in die 15de minuut gedruk, na 'n goeie lopie vanaf hul eie kwartgebied deur Marchel Marais (skrumskakel), om met 10-8 voor te loop nadat Swartbooi dit verdoel het.
Die tuisspan het rustyd met 16-15 voorgeloop. Crusaders het weereens eerste punte aangeteken toe Hopp in die 47ste minuut vir 'n drie oorgaan. Wolhuter het twee punte bygevoeg en in die 55ste minuut met 'n strafskop geslaag om die telling op 26-15 te staan te bring. Heibi het met 'n drie deur Marcelino Meyer (plaasvervanger-flank), teruggekap om die agterstand na ses te laat krimp.
Crusaders het hul bonusdrie in die 69ste minuut deur Bongani Ncqolombe (plaasvervanger-flank), gedruk. Hul laaste drie is deur Jayden Onkers (senter), gedruk. Wolhuter het beide drieë verdoel om die telling op 40-20 te bring.
Heibi het volgehoue druk toegepas en het September in die doodsnikke van die wedstryd vir sy tweede drie en sy span se bonuspunt oorgegaan. Swartbooi het met beide doelskoppe gefaal.
Heibi speel Saterdag in hul tweede laaste tuiswedstryd teen Bridgton van Oudtshoorn. Indien hulle nie die mas opkom nie, sal dit sekerlik hul kanse drasties knou om vir die halfeindronde te kwalifiseer, aangesien hul laaste twee wedstryde teen die gedugte Progress en Evergreens van Pacaltsdorp is.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derde span naelskraap met 18-17 verloor nadat hulle rustyd met 10-8 gedraai het. Alvin Swanepoel (heelagter), het al sy span se punte met twee drieë, twee doelskoppe en een strafskop aangeteken.
Die tweede span het in die doodsnikke hul wedstryd met 17-13 verloor, nadat hulle rustyd met 14-3 agter was. Shirgené Swartbooi (heelagter), het een drie gedruk. Carlo Williams (regtervleuel), het met een doel- en twee strafskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'