RUGBYNUUS - Al het die Springbokke Saterdagaand 23 Septem-ber teen Ierland verloor, is alles nie verlore nie.
So sê Anton Moolman, afrigter van die SWD Arende, wat die toets in Parys, Frankryk bygewoon het.
Hy het Dinsdag 26 September met George Herald gepraat nadat hy die vorige dag uit Frankryk teruggekeer het waar hy die afgelope paar weke die Wêreldbeker rugbytoernooi bygewoon het.
Benewens die toets teen Ierland het Moolman ook die Springbokke se eerste wedstryd teen Skotland bygewoon en sommer die geleentheid benut om sy rugbykennis verder uit te brei.
Volgens Moolman was die atmosfeer in die stadion Saterdagaand ongelooflik. "Wêreldbekergees het Frankryk beetgepak. Daar was groot verwagting vir Saterdagaand se wedstryd."
Hy sê die Springbokke kon die wedstryd gewen het as hulle al hul geleenthede beter benut het.
Die uitslag kon anders gewees het as die Springbokke die balle oor die pale geskop het.
Hy het geen twyfel dat Suid-Afrika teen Frankryk in die kwarteindronde gaan speel nie. "Dit sal 'n massiewe wedstryd wees." Natuurlik sal die Franse 'n tuisvoordeel hê, maar hulle sal waarskynlik sonder 'n paar van hul sleutelspelers speel as gevolg van beserings.
Hy glo die Springbokke sal Frankryk kan wen en as hulle verby daardie wedstryd kan kom, glo hy daar is 'n sterk kans dat die span teen Ierland in die finaal gaan speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’