RIVERSDAL NUUS - As Riversdal Blues gedink het die eerste ronde van die SWD Super A-liga was 'n uitdaging, kan hy homself klaarmaak vir 'n opdraande stryd in die tweede ronde wat Saterdag met 'n tuiswedstryd teen Barbarians afskop.
"Maar ons besef dit terdeë," sê sy hoofafrigter, Rhyno Jacobs. "Maklik gaan dit nie wees nie en die feit dat SWD sy gekontrakteerde groep provinsiale spelers aan hul onderskeie klubs teruggegee het, maak die bult nog steiler om uit te klim."
George, byvoorbeeld, kan sy span met ongeveer sewe provinsiale spelers versterk.
Nie een van die spanne in Hessequa trek voordeel uit die skuif om weer provinsiale spelers in hul geledere te kies nie.
Tog glo Jacobs dat sy span met groter selfvertroue in die tweede ronde sal meeding. "Ons moes in ons eerste jaar in die Super A-liga eers ons voete vind en die ander spanne leer ken. In die begin het ons gesukkel om aan te pas, maar hier teen die einde van die eerste ronde het die spelers hul selfvertroue begin vind en was ons beslis meer mededingend.
"Almal het mos gedink ons gaan die melkkoei van dié liga wees en vyf punte afstaan in elke kragmeting met groot wentellings teen ons. Toe nie. As jy sien hoe ons teen die voorloper, Heidelberg, gevaar het, bewys dit mos ons is nie heeltemal uit ons diepte nie."
In die Blues-agttal sal spelers soos Marico Leigh Radloff (stut) die vuur moet stook as hulle Saterdag enigsins hond haaraf wil maak teen Barbarians.
Jacobs sê daar was so vier, vyf wedstryde wat die Blues net sowel kon gewen het.
"Swak besluitneming en 'n gebrek aan ervaring op dié vlak het ons in kritieke stadiums punte gekos, selfs waar ons 'n voorsprong geniet het. En - ek haat dit om daarna te verwys - 'n paar twyfelagtige skeidsregterbeslissings. Maar daarmee moet mens maar saamleef en ek gee beslis nie voor dis die groot rede vir ons gesukkel nie.
"Een van die vernaamste redes waarom ons telkens vasval of sukkel om die knoop deur te hak," verduidelik Jacobs, is ons diepte onder spelers in die klub, veral onder ons voorspelers. "As 'n stut by ons af is met 'n besering, is ons in die moeilikheid. Ons het ongelukkig nie diepte in die klub nie.
"Neem nou vir Heibi. Met hul diepte en ervaring op die plaasvervangerbank kan ons nie meeding nie. As hulle plaasvervangers opstuur, is dit soos 'n nuwe span wat uitdraf.
"Ons het nie die geld om spelers te gaan koop soos wat van die ander klubs in die liga doen nie. En spelers wat graag by Blues wil aansluit, word nie deur hul klubs tydens die vensterperiode, wanneer spelers van klubs mag verwissel, betyds vrygestel nie. Ons stuur ook nie talentjagters uit na ander klubs om belowende spelers te gaan identifiseer wat ons kan nader nie. So basies is ons hande afgekap wat betref 'n groei in spelergetalle."
Jacobs glo egter dat Blues in die tweede ronde sterk weerstand sal bied. "Ons het die ander spanne se speelstyl nou begin agterkom en ontleed en kan ons wedstrydplanne daarby aanpas. Ten minste weet ons wat om te verwag."
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’