GEORGE RUGBYNUUS - Die B-span van Riversdal Blues het die Hessequa-vlag tydens die eindronde van SWDRU se Presidentsliga Saterdag 1 September op Outeniquapark laat wapper toe hulle Spring Roses van Oudtshoorn met 25-15 geklop het.
Blues het rustyd met 15-10 voorgeloop. Die span het verdien om die taai, maar aanskoulike wedstryd te wen omdat hul voorspelers die opponente se agttal gedurig op die agtervoet gehou het.
Die agterlyn, met Jerome Esau, vlugvoetige linkervleuel wat drie drieë aangeteken het, het hul lojale ondersteuners groot genot verskaf met goeie hardlooprugby.
Patric Flink, plaasvervanger senter, het Blues se ander drie gedruk, terwyl Delano Jacobs, heelagter, met 'n doel- en strafskop geslaag het.
Vir Spring Roses het Abe Julies (slot) en Attie Goliath (losskakel) elk 'n drie gedruk, met André Fortuin (heelagter), wat een straf- en een doelskop bygevoeg het.
Progress van George het hul kroon as SWDRU Premierligakampioene verdedig toe hulle vir Barbarians van Mosselbaai in 'n opwindende finaal met 14-10 gewen het, nadat hulle rustyd met 7-6 agter was. Beide spanne kon net een drie aanteken.
In die Presidentsliga-eindronde het Jaguars van Plettenbergbaai vir George met 26-19 geklop, nadat George rustyd met 19-12 voorgeloop het. Die oorwinning het Jaguars promosie na die Premierliga verseker.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'