RIVERSDAL NUUS - 'n Volgepakte sportspyskaart wag op sportliefhebbers in Riversdal én Hessequa wat die smaakspiere behoorlik gaan kielie.
Rugby, rugby en nogmaals rugby en tussenin ook hokkie, netbal en toutrek. Riversdal het lanklaas só 'n sportbederf beleef.
Laerskool Volschenk se jaarlikse Spar-naweek begin vanmiddag, Vrydag 12 Julie, om 13:30 met die Bulletjie rugbywedstryde vir die junior spanne (o. 7, o. 8 en o. 9) asook netbalwedstryde (o. 7 tot o. 9-spanne).
Die Spar-toernooi word op Saterdag 13 Julie om 08:00 voortgesit met rugby en netbal vir senior spanne.
Ook op Saterdag is die interskole kragmeting tussen Langenhoven en Hoërskool Bredasdorp met die eerste wedstryde wat reeds om 08:30 begin.
En by Oakdale skop die eerste rugbywedstryde teen die besoekende Paul Roos om 08:30 af met die eerste spanne wat mekaar net ná 13:15 aandurf.
By die skouterrein word 'n groot toutrektoernooi aangebied met Oakdale se 560 kg-span, tans die wêreldkampioen, wat ook in aksie gaan wees (teen druktyd het ons nog gewag op inligting rakende die toutrek).
Saterdagmiddag om 15:30 in die Riverville-stadion pak Riversdal Blues en Seagulls van Melkhoutfontein mekaar in 'n derby wat, soos die weer die afgelope week, stormsterkte kan bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’