STILBAAI NUUS - Groot opgewondenheid het geheers toe die o/13 rugby- en netbalspanne asook die o/12 netbalspan Woensdagoggend vertrek het op hulle toer na Riebeek-Kasteel.
Die kinders het pragtig gelyk in hulle Bertie Barnard drag en is ware ambassadeurs vir Stilbaai.
Laerskool Riebeek-Kasteel bied die toernooi aan wat duur tot Saterdagmiddag 23 Maart en 'n hele paar skole is teenwoordig.
Uithouvermoë en fiksheid gaan deurslaggewend wees aangesien die o/13 rugbyspan sewe wedstryde gaan speel waarvan die eerste een alreeds Woensdagaand plaasgevind het teen Laerskool Riebeek-Kasteel.
Berties se o/13 rugbyspan het dan ook een van hulle beste wedstryde die seisoen gespeel toe hulle die sterk span van Laerskool Riebeek-Kasteel in Woensdagaand se hoofwedstryd 28-5 geklop het.
Vir die meisies is daar ook geen ruskans nie en behalwe vir afrigtingsessies gaan hulle ook 'n hele paar wedstryde speel Donderdag en Vrydag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’