RUGBY NUUS - Ben Brinkhuis, tans waarnemende president van SWD-rugby, het homself verkiesbaar gestel om president van SWD-rugby te word. Hy het dit by navraag bevestig.
Hy neem sedert Mei waar in die pos nadat Hennie Baartman op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) verkies is.
Brinkhuis neem waar tot 26 November wanneer 'n nuwe president vir SWD-rugby tydens die unie se algemene jaarvergadering verkies sal word.
Die 58-jarige Brinkhuis is een van die mees ervare rugby-administrateurs in SWD-rugby. Hy kom uit 'n klub agtergrond en was in 1989 die stigter van die Eagles Stars in Sedgefield. Hy is reeds van 2006 betrokke by SWD-rugby.
Hy het in 'n stadium voorsitter van die kusstreek geword en in 2010 senior visepresident van SWD-rugby.
Brinkhuis het al in die verlede gesê klubs lê hom na aan die hart en speel 'n baie belangrike rol in die streek. Hulle is die voedingsbron vir die unie se provinsiale spanne.
Hy het aan George Herald gesê hy het hom verkiesbaar gestel, want hy is vir 'n baie lang tyd betrokke in SWD-rugbystrukture.
"Ek het baie ervaring en ek wil dit terugploeg sodat SWD na 'n nog hoër vlak kan beweeg."
Hy het twee doelwitte as hy tot president verkies sou word.
Eerstens dat SWD-rugby 'n belegger kan kry sodat die unie in die Curriebekerreeks kan speel. Voorts dat die klubrugby meer kompeterend sal wees.
Brinkhuis het gesê hy kan hom nie uitlaat oor 'n moontlike ander kandidaat of kandidate wat ook verkiesbaar sal wees nie.
"Ons sal maar moet wag om te sien tot die nominasies sluit of daar 'n ander kandidaat of ander kandidate verkiesbaar gaan wees."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'