RIVERSDAL NUUS - Die eindtelling sal Riversdal Blues dalk vlei, maar Barbarians het dié kragmeting gister (Saterdag 3 Mei) welverdiend met 18-13 gewen.
Die besoekers het hul gewigsvoordeel goed ingespan het die tuisspan se agttal in die vaste skrum verniel en hulle heeltyd in trurat gehad.
Riversdal Blues was ook hul eie grootste vyand en het met halfhartige verdediging, verspeelde kanse, swak besluite en ook 'n geel- en rooikaart sake vir Barbarians vergemaklik.
Tot oormaat van ramp is die tuisspan ook deur beserings gekortwiek.
Maar, dit kan niemand oor twyfel nie: Die Mosselbaaiers was die beter span op die veld.
In die tweede helfte, met Barbarians wat met rustyd met 18-10 voorgeloop het, het die Blues hul spel opgeskerp, beter saamgespeel en selfs twee of drie gevaarlike aanvalle op die besoekers se doellyn geloods. Maar die Baabaaas se verdediging het gehou.
Teen die einde het die spel uitgetorring en vir die toeskouers min rede tot opwinding gegee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’